Tru-Cape se Hannes Hanekom voltooi 14e Cape Epic in die top 100
Tru-Cape se appel- en peerprodusent, Hannes Hanekom (48) van Welgemeen-boerdery in die Witzenbergvallei naby Ceres, het onlangs sy veertiende eindstreep vir die Absa Cape Epic oorgesteek – in die 94ste algehele plek, en agtiende in die kategorie vir veterane.
“Die roete was besonder taai, dalk selfs die taaiste van al die Cape Epic’s waaraan ek deelgeneem het,” sê Hannes, en vertel hulle het 27,48 meter per kilometre geklim, wat beteken dit was die steilste wedren nog in die twintig jaar sedert die ontstaan van die Cape Epic.
Die roete, van 613 kilometer, het oor sanderige en klipperige terrein gekronkel. Uitermate warm temperature het boonop bygedra tot die uitdaging. Nietemin, het Hannes en sy spanmaat Jandri Ferreira, die uitmergelende wedren met groot sukses voltooi.
Hannes, wat nog altyd lief was vir bergfietsry en om veldroetes te hardloop (hy het immers al die Otter African Trail Run en die Dryland Traverse agter die blad), het al in vyftien Cape Epic-wedrenne weggespring. Hy het ongelukkig verlede jaar siek geword en kon nie die wedren klaarmaak nie.
Hannes, wat hoofsaaklik Gala-tipe appels produseer wat deur Tru-Cape Fruit Marketing bemark word, moet gewoonlik so tussendeur die plaas se appel- en peeroes vir die Cape Epic voorberei.
“Mid-Desember en tydens die eerste helfte van Janaurie, bring ek sowat veertien tot sewentien ure per week in die saal deur, hoofsaaklik oor naweke en vakansies. Vanaf Februarie het ek baie minder gery, maar die intensiteit het toegeneem. In die maande voor die Cape Epic het ek ook aan verskeie wedrenne deelgeneem om resies-fiks te raak,” verduidelik hy, maar erken dis moeilik om tyd te vind vir oefen tussen boerdery- en gesinsverpligtinge.
Sy voorbereiding vir die Cape Epic het hom nie net deur hul eie boorde geneem nie, maar ook dié van buurplase.
“Jy steel maar lekker met jou oë en leer baie in ander se boorde. Jy kan ook sien of jy voor of agter hulle is met sekere praktyke,” lag hy.
Heelwat boere neem jaarliks aan die Cape Epic, wat as die Tour de France van bergfietsry beskou word, deel.
“Dalk is dit omdat die buitelug deel is van boere se lewenswyse. Ons het maklike toegang tot bergroetes, wat ‘n massiewe seën en beslis tot ons voordeel is. Churchill het mos gesê ons is veerkragtig, maar dalk is ons bietjie dom ook, want jy moet ‘n skroef los hê om iets soos die Cape Epic te takel!”
Van die Cape Epic-roetes in die Witzenbergvallei loop naby Hannes se huis verby. Sip Café, ‘n restaurant wat aan sy skoonsuster behoort, was ook ‘n toeskouerpunt tydens vanjaar se wedren. Hannes ry ook gereeld die roetes rondom Sip Café.
“Ek is al van kleins af gefassineer deur bergfietsry. My bergfiets-reis het ook in die Witzenbergvallei begin, waar ek geleer het om klippe en sand op my fiets te navigeer. Tydens die Cape Epic was dit vir my heerlik om die roetes hier ons vallei aan te durf, nie net omdat dit my tuiste is nie, maar ook omdat ek vinniger is wanneer ek pret het. Ek was ook geestelik beter voorberei vir hierdie deel van die roete, want ek weet hoe moeilik dit kan wees.
“Ek het in hierdie berge grootgeword en sal nooit my liefde vir hulle verloor of moeg raak vir hulle. Die Witzenbergvallei is ‘n stukkie hemel in my oë. Om ‘n wêreldklas-wedren soos die Cape Epic op ons voorstoep te hê, is soos ‘n droom wat vir my waar geword het. Ek het van kleins af gedroom daaroor om in hierdie tipe wedrenne deel te neem, en nou het ek die voorreg om dit te doen. Op my ouderdom is ek net dankbaar daarvoor, en dit sal ‘n sonde wees om dit nie te doen terwyl ek nog kan nie,” sê hy.
Hannes en sy broer, Sakkie, van die plaas Slagboom, het in 2021 ‘n rekord ingepalm as die enigste spanmaats wat al tien Cape Epics saam kafgedraf het.
“Ons praat daaroor om nog een saam aan te pak om dit bietjie moeiliker te maak om ons rekord te breek,” glimlag hy, maar voeg by dat een van sy seuns ook al aangedui het dat hy eendag ‘n Cape Epic saam met sy pa wil ry.
Vir meer inligting, kontak asseblief vir Lucille Botha by lucilleb@tru-cape.co.za of besoek www.tru-cape.com. Volg Tru-Cape op X (@TruCapeFruit), Facebook (@Tru-Cape Fruit Marketing) en Instagram (@trucapefruit).